Posted by: zonika | Oktober 13, 2008

‘n Pilletjie teen die lewe?

‘n  PILLETJIE TEEN DIE LEWE?

 

Sy is drie jaar oud, opgewonde bolletjie energie want tannie Z kom kuier by “haar”! In die motor word telkens seker gemaak dat die kuier baie slapies sal wees, en met genoeg stories lees gepaard sal gaan. “My Pa het gesê hy sal ons boebloeteek toe vat. Vra hom maar, hy het gesê.”

En so word daar ook baie opgewonde vertel van haar nuwe pophuis wat haar Pa vir haar gebou het. ‘n Regte-egte pophuis van hout, met ‘n stoep en ‘n venster en ‘n deur wat kan toesluit. “En my Ma het vir my regte gordyne gemaak, en ‘n tafeldoek. En ons gaan daar teedrink. Jy gaan mos daar by my kom tee drink, nê, tannie Z?” En so belowe ek sonder mooi dink.

Nou ja, teen namiddag die volgende dag kan ek vir pophuisinspeksie nie meer uitstel nie. Dit was al laat die vorige aand toe ons tuiskom, en het ek nie in die donker soveel aandag gegee aan die buitegeboue nie. In die donker konsentreer hierdie ekke net om regop te bly anders koop ek grond.  So deur die slaap het iemand net iets gemompel van “daar’s my pophuis” en is sy weer droomland toe.  En nou is dit sukke tyd. Hoe nader ons aan pophuis kom, hoe stadiger loop hierdie tannie Z, want sy voorsien skielik ‘n paar probleme…

Die pophuis staan dan doer bo in die lug! Kom by die onderste trappe tot stilstand, en soos watter goeie gasvrou word die 7 trappe opgehardloop. “Kom tannie Z. Kom in. Kom kyk al my poppe is hier.” Die afwagting op daardie gesiggie, en die verwagting in haar blou ogies is onbeskryflik. Ek maak allerhande praatjies oor die mooi pophuis terwyl ek stadig met my kierie nader hinke-pink, maar my kop werk oortyd. Ag liewe genadetjie tog, ek kan mos nie hierdie kind se entoesiasme só demp nie!! Maar uitkoms is daar nie. Teen hierdie tyd staan sy alweer by my op die grasperk, besig om my aan die hand nader te trek – dis baie duidelik ek’s te stadig.

“Clarissa, jy het dan die mooiste pophuis wat ek nog ooit gesien het. Kyk jou mooi gordyntjies.”

“Nou, kom op,” en dit t—r—e—k weer aan my hand.

“Liefie, jy weet mos tannie Z kan nie trappe klim nie. Ek dink ons moet maar hier onder tee drink. Gaan maak jy die tee, ek gaan vra Pappa om vir ons stoele te bring….”

“Nou hoekom kan jy nie opklim nie?” Die volgende oomblik spring sy weg: “Dis maklik. Mens maak net só en só en só en en ….” En daar staan sy bo aan die trappe. Die onverstaan en telleurstelling baie duidelik op haar gesiggie weerspieel.

“Maar jy weet mos my bene is “seer”, daarom loop ek met my kierie, en kan ek nie trappe klim nie.”

Net daar sak sy op die boonste trappie neer, ken in die hande, laat hoor sy met ‘n moedelose sug: “Nou as jou bene dan seer is, gaan drink ‘n pilletjie!”

Posted by: zonika | Oktober 6, 2008

Jy Kom

JY KOM!

 

Jy kom met die môre wat voorlê

wanneer die son groet

en die maan hallo sê

Ek tel die tyd:

ses en twintig vol uur

(is dit hoe lank ewigheid duur?)

 

My hart is een boksprong

my maag die ene vlinderslag

my voete dans ‘n dans van oeroue oorsprong

ek repeteer die weersiens nog ʼn duisend maal

 

Mag die tyd tog vlerke hê –

want jy kom met die môre wat voorlê!

Posted by: zonika | Augustus 29, 2008

Ek wil net kind wees

 

Ek wil eerder net kind wees

            wat gulsig-graag in die water speel

            met dom vingers skewe modderhuise bou

            oopmond lag

            toe-oog slaap

 

Ek wil net kind wees

            gekoester in ʼn hart se buidel

            met die stil troos van SM26

            en ʼn flenter-voos teddie agter my rug

 

Ek wil net kind wees

            onbewus van apartheid, straatkinders

            van oorlog se wrede werklikheid

            sonder kennis van kleur

            sonder grense van geld

 

Ek wil net kind wees

            onbevange     vry

            met die blou somerson in my oë

            en ʼn doeksak vrede in my hart

 

 

Posted by: zonika | Augustus 16, 2008

How Much Music Can You Make?

HOW MUCH MUSIC CAN YOU MAKE?

On Nov. 18, 1995, violinist Itzhak Perlman, performed a concert at Avery Fisher Hall at Lincoln Center in New York City. Stricken with polio as a child, Perlman painfully walked with the aid of two crutches to a chair in the middle of the empty stage. He carefully laid the crutches on the floor, loosened the clasps of his leg braces, extended one leg forward and the other underneath his chair, picked up his instrument and nodded to the conductor to begin.

But something went wrong. After only seconds of playing, one of the strings on his violin broke. The snap was like a gunshot reverberating in the auditorium. The audience immediately knew what happened and fully expected the concert to be suspended until another string or even another instrument could be found.

But Perlman surprised them. He quietly composed himself, closed his eyes and then signaled the conductor to begin once again. The orchestra resumed where they had left off and Perlman played — on three strings. He played with passion and power. All the time he worked out new fingering in his mind to compensate for the missing string. A work that few people could play well on four strings Perlman accomplished on three.

When he finished, an awesome silence hung in the room. And then as one, the crowd rose to their feet and cheered wildly. Applause burst forth from every corner of the auditorium as fans showed deep appreciation for his talent and his courage.

Perlman smiled and wiped the sweat from his brow. Then he raised his bow to quiet the crowd and said, not boastfully, but in a quiet, pensive, reverent tone, “You know, sometimes it is the artist’s task to find out how much music you can still make with what you have left.”

Perlman should know. Polio left him with less stamina than he had before, yet he went on. Playing a concert on three strings is not unlike his philosophy of life — he persevered with what he had left and still made music.

And isn’t that true with us? Our task is to find out how much music we can still make with what we have left. How much good we can still do. How much joy we can still share. For I’m convinced that the world, more than ever, needs the music only you and I can make.

And if it takes extra courage to make the music, many will applaud your effort. For some people have lost more than others, and these brave souls inspire the rest of us to greater heights.

So I want to ask, “How much music can you still make with what you have left?”

 

(By Steve Goodier © 2002)

Posted by: zonika | Augustus 5, 2008

Liewe Skoonsus

Liewe Skoonsus

Hoe het die tyd nie gevlieg nie? En wat ‘n voorreg om ‘n 18e huweliksherdenking met jou te deel!  Ek weet nie watter resep julle volg nie, maar iewers het jy doepa wat werk. In vandag se lewe waar elke derde huwelik in die skeihof beland, dink ek jy en my boet verdien ‘n medalje vir die voorbeeld wat  julle leef. Weet jy, in die 20 jaar wat ek jou nou al ken, het ek nog nooit jou en G hoor baklei nie, of openlik kon sien julle is bietjie opgeklits met mekaar nie. En sulke dae moes daar natuurlik wees, die volmaakte paartjie is nog nie geskape nie. Maar jul kom redelik naby daaraan.

Ek dink sommer vandag ook weer terug aan ons Ma, die skoonma wat ook sommer Ma vir jou geword het. Ja, dis jammer jy kon haar net 4 jr ken. Ek onthou hoe sy altyd vir my gesê het: daardie nare skoonma-stories is sommer leuens. Dit was haar hartewens on ‘n nice skoonma te wees. Ek dink sy het dit reggekry om ons te wys dis nie altyd so bad om ‘n skoonma te hê nie. Ek is seker as sy toe nog gesond was en dinge heel op haar eie kon doen, sou jy ‘n baie anderste skoonma leer ken het.

Dis jammer dat sy nooit saam met ons kon gaan putt-putt speel nie, nê? Dink net hoeveel meer genot sou ons gehad het: jy, sy en ek teen haar twee seuns. Jy sou net moes sorg dat ons steeds die puntekaart moes hou. Maar elke keer as jy punte opgeskryf het, sou sy aan die giggel gaan – en ons hele game weggee! Wonder ek nou skielik, hoekom het julle twee altyd so sit en giggel as ons kaart gespeel het…?

Onthou jy nog ons twee se poging tot kraamdrag maak? Ek kan nie help om te lag as ek hieraan dink nie. G’n wonder ek het Ma woordeloos sien sit en kopskud nie – die voortvarendheid van die jeug darem… Weet jy, ek het jou nog nooit gevra nie: hoe lank hét die ellendige rokke jou toe gepas? Met vandag se meerdere kennis is ek seker jy kon kwalik twee maande verder met hulle kom. Ons was tog so trots op onsself.

Ek onthou die dag wat S gebore is, G wat bel om te sê dis ‘n dogtertjie… “en sy’s tog so bitter klein, Ma”… Hoe Ma sommer net daar langs die foon aan die huil gaan oor haar eerste kleinkind. En die lang 2 weke voor julle haar kon kom wys. Vandag besef ek weer eens hoe geseënd is ons eintlik met ‘n skoonsus soos jy. Watter ander skoonsuster sou sonder murmerering met ‘n 14 dae oue babatjie in die pad val om haar aan haar ouma en tannie te gaan voorstel. Opnuut sê ek vandag vir jou dankie vir hierdie opoffering, en dat dit steeds met jou groot glimlag en vrolike gees, soos altyd, geskied het. Dis is beslis ‘die Groot Voorsiener gewees, want nie een van ons het regtig verwag om net ‘n paar maande later afskeid te neem van Ma nie.

‘n Paar jaar later het J arriveer. Hierdie dapper baba wat haar lewe met ‘n groot geveg moes begin. As ek vandag terugkyk na haar fotos in die broeikas: dis meer hart&long plakkers en pypies as mens. ‘n Klein vegter met deursettingsvermoë het sy haar bewys – dis beslis van haar Ma geërf. Net jy sal kan beskryf hoe jy rerig maande lank moes oorleef tussen huis en hospitaal. Is jy by die een, worstel jy met die wete die ander het jou ook nodig. En dit alles steeds met jou geloof in more en ‘n lag om jou mond.

Deur al die jare was jy net altyd vir ons B, was jy net maar altyd daar, en altyd aan my boet se sy. Ek dink jy verstaan hom soos net ons Ma kon, en beslis op ‘n manier wat sy ousus nie eens aldag kan snap nie. Ek weet daar was baie ander swaarkrydae ook, meer as een keer moes jul weer van onder af die leer begin klim. En altyd deur was jy styf teen my boet se sy. Ek sê vir jou dankie daarvoor. Hy het net gisteraand aan my gesê jy verdien ‘n medalje. Toe besluit ek om hom vir jou te gee, in woorde. Ek weet jy sal, soos al 18jr lank, hierdie medalje met hom en die kinders deel  op jou unieke wyse: “Alles wat ek doen is maar vir G en die 2 kinders, hulle is my lewe”.

Met liefde.

Z. 

Posted by: zonika | Julie 24, 2008

Liewe Jy,

Liewe Jy,

 

Deur my venster lê die wêreld grys en nat en koud – nou al vir dae lank.  En weet jy hoekom? Omdat die stad, soos ek, alleen is. Die wolke het boonop soos stout kinders, met die kussings gestoei en die wêreld vol vere gelos….

 

Die vorige jare was dit vir my sprokieswêreld, maar nou kort iets. Ek het buitentoe gestorm, met ʼn tikkie opgewondenheid die eerste vlokkies in my hand gevang. Ek wou die sagtheid teen my wang voel – soos jy my laas laat voel het… Dit was nie weer sag nie, maar koud en nat. Het sneeuvlokkies dan ook trane?

 

Ek het begin koud kry want daar was niemand se warm jas nie en die sneeuman het telkens krom getrek – seker omdat my vingers so koud was. Die kaggel wou nie werk nie; twee pakkies vuurhoutjies se vonkies hoop was te min om my koue brandhout te verwarm. En die gluwein het verslaan…

 

By die Waterfront het almal groepies-groepies en in afgesonderde paartjies gekuier. Ek wou deel van dié snoesigheid word, maar daar was geen tafel vir een gedek nie. Ek het geweet die leë stoel oorkant my sou nie my hand kon vashou of met die kersvlam kon speel nie. Ook sou hy my nie sy wyn laat proe nie. Toe loop ek maar aan….

 

By die huis het die stil mure my ingewag. Jou foto die enigste spatsel kleur. Ek wou ʼn tikkie van jou warmte in my siel vasvang, maar jou lippe was vreemd koud en hard.

 

Middagtyd het die skreeuende stilte my weer na buite gedwing. ʼn Moedige sonstraal het agter die gryskombers kop uitgesteek en ʼn flentertjie reënboog oor my laat hang. Tot bo my posbus. En weet jy wat? Binne-in was daar ʼn stukkie van jou – ‘n stukkie sonskyn.

 

Ek het jou ingedrink – jou geskrewe stem, jou stil woorde en sommer net jou hele selwers tussen die blou reëls ingeweef. As ek my oë toemaak, kon ek nog ʼn tikkie van jou inadem: son en veld. Jou woorde het my warm omvou en weer die vuur in my aangesteek…

 

Ek wou jou nog vertel het

….dat die Kaap leeg is sonder jou….

….dat ek jou so baie mis….

….maar bowenal, dat ek lief is vir jou….

En altyd deur sal wees,

Verby die grense van tyd

Tot anderkant die ewigheid…!

Posted by: zonika | Julie 24, 2008

Onthou My….

                                                 Onthou My 

Nou ja, my eerste 5 maande in Huis E is agter die rug. Wie sou dit kon glo. En ek het nog nie een dag die wilde weghollens wou kry nie. Vir myself nogal ‘n surprise!

In hierdie paar maande het ek ook al so paar keer indirek te doen gekry met dood. Inwoners van die ander vleuels/ of van die heel swak bejaardes, of iemand wie ek nie eens ken nie. Daarom het dit my nie diep geraak nie. Dit was maar net iets wat “sekerlik baie in ‘n Ouetehuis voorkom”. Ek meen, die dag as jy hier kom bly dan staan jy mos anyway al met een voet op die piesangskil…

Dood word eers meer van ‘n werklikheid wanneer jou buurman jou die oggend in die gang groet en julle nog ligte geselsies maak, en vanaand hoor jy hy’s hemel toe. Sommer net so. En dan besef jy hoe bitter broos is lewe eintlik, net ‘n asemteug. En hoe maklik is dit vir sommige mense om dood te gaan. En jy bid sommer net daar dat jy ook eendag so vinnig en so maklik sonder ruzzles sal gaan.

Die slim “Hulle”  sê niemand is onmisbaar nie. Jy leer ook sommer opnuut hoe wérklik dit is. ‘n Week later en hul woonstel is ontruim, die tannie nou op eie versoek dadelik oor na ‘n enkelkamer. Die wooneenheid reg vir die volgende bewoners. Dis asof mens tog gedink/verwag het alles moet so effens tot stilstand kom, maar nee, die lewe en die mense, en alles gaan aan net soos gister en eergister en al die dae wat nog moet kom. En dan is jy nog mens genoeg om te wonder: as dit nou ek was, sou hulle my darem bietjie meer mis?  Of al net maak of hulle my mis?  (Hehehehe, die eiewaan darem ne!)

En tog, het dit my ook laat dink: Zonika, as dit nou rerig jy was, hoe sou jy wou hê hulle moet jou mis?

En daar slaat ek ‘n blank…

O, onthou my vir my sprankelende self – dis nou die dae wat ek ‘n depro-pilletjie gesluk het;  

onthou my vir my behulpsaamheid die dae as my spiere lus was daarvoor – en dit het ook al minder gebeur;

onthou my vir die bekers tee/koffie wat ek altyd bereid was om te maak – sodat ek rede het om tog ook weer te kan koffie drink;

onthou my vir my altydregvirluister-oor – hoe anders as ek dan so vrek nuuskierig is?;

onthou my vir my breë afpak-rug – hy’s klaar krom, dus kan jy maar laai;

onthou my boek-in-die-hand – het ‘n slim oom dan nie gesê hy wie lees verkeer in die beste geselskap nie?;

onthou my maar vir al die ander goeters wat ons gewoonlik nooit sê nie, of heeltemal te laat wil sê.

Solank iemand my darem net bietjie gaan mis – al is dit ook net vir al my nonsens praat…

 

Posted by: zonika | Julie 24, 2008

Dit was nie my droom nie…

Dit was nie my droom nie

Ek sit by die venster, ‘n vreemde venster, staar uit oor vreemde gronde, vreemde tonele en teen vreemde mure vas. My oë gly af  teen die rooibruin baksteenmuur met sy geëlektrifiseerde drade en nog ‘n geëlektrifiseerde lemmetjierol soos ‘n tjerrie op ‘n tjoklitkoek,  tot by die hoek van die erf, haak vas teen die groot swaar gietysterhek. Daar agter raas die wêreld onverpoos verby in trokke, motors, op fietse, party per voet. En dit skiet deur my hele wese: Here, dit was nie my droom nie….

 Hierdie hier en nou was nie my droom nie. Nee, dis nie ‘n tronk nie, ten spyte van die muur en die drade. Hulle is eintlik daar om ons, die sagte teikens van die lewe, te beskerm. Geen dief en inbreker sal maklik hier inkom nie, en terselfdertyd hou dit die inwoners ook binne. Geen gevangenes nie, geen tronk gebou met mensehande nie, geen bewaarders of krassende ystersleutels nie.  Maar ‘n tronk van omstandighede. Dit was gewis nie my droom nie.

My droom was nie om op 19 te hoor van ‘n “onverklaarbare” doofheid nie. Ook nie om 10 jaar later te leer van spierdistrofie nie. Ek het ook nie gedroom om te leer leef met die knellende tentakels van ‘n onversadigbare eiser van my hele lewe nie. Wie droom anyway daarvan om in die fleur van jou lewe als agter te laat, ‘n permanente inwoner van ‘n ouetehuis te word, waar die gemiddelde ouderdom dubbel plus joue is? Dit was nie my droom nie.

Here, dit was nie my droom nie….

Ek draai om, my oë val op my selfoon. Die boodskap flikker nog: Life is a continious experience.  It is given to us in stages, one day at a time, and this is enough. Do not look back and grieve about the past for it is gone forever. Do not be troubled by the future, as God will provide. Live in the present and make it so beautiful that it will be worth remembering….

Dit was nie my droom nie, maar ek sal hier ook probeer, that each day will be worth remembering…

Posted by: zonika | Julie 24, 2008

brandhout

Posted by: zonika | Julie 24, 2008

Gister se Môre

Gister se Môre

 

Ons is op reis, my Lief:

van  Gister na Môre

stap ons die pad van Nou

met ons oë op die horison

en Vandag om vas te hou

 

Gister is verby, my Lief

onherroeplik verby

En Môre lê ver en vreemd:

soos ‘n raaisel in ‘n spieël

nog dimensie moet kry

 

Ons het Vandag, my Lief

net Vandag: ‘n handvol ure

om die beste van te maak

om te lewe en lief te hê:

net Vandag om oor te waak

©

Older Posts »

Kategorieë